| Grondwet |
|
WOORDOMSKRYWING 1. Wanneer dit in hierdie Grondwet en verordeninge gebruik word en ‘n strydige bedoeling nie duidelik uit die verband blyk nie, beteken: a. “Departement” die Departement of Departemente gemoed met die administrasie van die Wet; b. “dier”, ‘n Braunvieh wat in die Kuddeboek geregistreer is of daarvoor geskik is en die woorde bees/te”, “bul/le”, “kalf/kalwers”, koei/e” en “vers/e” sal dieselfde betekenis hê; c. “eienaar” die persoon wie – i. volgens die rekords van die Vereniging, sodanige dier se eienaar is, of ii. tot bevrediging van die die Raad bewys lewer dat sodanige dier geskik is om in sy naam geregisteer te word; of iii. in die geval van ’n ingevoerde dier geregtig is om die dier in sy naam in die erkende kuddeboek van die land van herkoms te registreer; d. “eisel”, ‘n eisel van ‘n dier en sluit ook ‘n embrio in; e. “embrio”, die bevrugte eisel van’n dier; f. “Gebied”, Suid-Afrika en sodanige ander lande soos van tyd tot tyd deur die Genootskap, met die goedkeuring van die Vereninging, bepaal; g. “geboorte”, die geboorte van ‘n dier; h. “Genootskap, Braunvieh SA; i. “Grondwet”, die Grondwet (met inbegrip van die verordeninge en skedules) van die Genootskap; j. “inspekteur”, ‘n persoon in die hoedanigheid as inspekteur deur die Raad aangestel; k. “koper”, die persoon of persone aan wie eienaarskap of gesamentlike eienaarskap van ‘n dier oorgedra word deur die verkoper van sodanige dier’ l. “Kuddeboek”, die Suid-Afrikaanse Braunvieh Kuddeboek waarin die besonderhede van alle diere, deur die Genootskap by die Vereniging, ingeskryf word; m. “Minister”, die Minister van die betrokke Departement; n. “persoon”, insluitende ‘n natuurlike of regspersoon; o. “prestasie”, die groei- en produksieprestasie, reproduksie en/of funksie; p. “Raad”, die Raad van die Genootskap amptelik verkies ingevolge die bepalinge van die Grondwet; q. “rasstandaarde”, die geskrewe stel genotipiese en/of genotipiese standaarde van voortreflikheid vir Braunviehras soos bepaal deur die Raad en waaraan enige dier na die goeddunke van die Raad moet voldoen voor sodanige dier vir registrasie aanbeveel sal word; r. “registrateur”, die beampte ingevolge die wet aangwys as Registrateur van Veeverbetering; s. “registreer”, die prosedure van registrasie van diere in die Volgeregistreerde en Hulpstamboekafdelings van die Kuddeboek, of waardeur ‘n voorvoegsel deur die Vereniging op rekord geplaas word; t. “Sekretaris”, die Sekretaris van die Genootskap; u. “semen”, die semen van ‘n dier; v. “ ‘n Suid-Afrikaans geteelde dier”, ‘n dier wat in of onderweg na Suid-Afrika gebore is: Met dien verstande dat ‘n dier wat gebore word as gevolg van ‘n ingevoerde eisel, as ‘n ingevoerde dier beskou word; w. “teler”, ‘n lid van die Genootskap wie die eienaar is van – i. die moeder ten tyde van die geboorte van nageslag geskik vir registrasie; ii. die ontvanger moeder ten tyde van die geboorte van nageslag geskik vir registrasie as gevolg van ‘n embrio-oorplasing; iii. sodanige dier tydens eerste aanname vir registrasie in die eerste afdeling van die Kuddeboek; x. “Vereniging:, die Suid-Afrikaanse Stamboek- en Veeverbeteringsvereninging; y. “verkoper”, die persoon of persone wie, volgende die rekords van die Vereniging , die eienaar’ gesamentlike eienaar/s van ‘n dier is, of in die geval van ‘n ingevoerde dier, die eienaar in die land van herkoms, wie sodanige dier verkoop het; z. “Wet”, die Veeverbeteringswet, 1977 (Wet No 25 van 1977), of enige verdere wetgewing met dieselfde doelstelling as in gemelde Wet, insluitende die regulasies uitgevaardig in gevolgedaarvan; 2. Ander woorde, afkortings en terme gebruik in die Grondwet, wat nie hierbo omskryf is nie, en waaraan ‘n bepaalde betekenis geheg word in die Wet, insluitende die regulasies uitgevaardig in gevolge daarvan; 3. Tensy ‘n teenstrydige bedoeling duidelik uit die verband blyk, sal alle woorde wat in die Grondwet na persone in die manlike geslag verwys, die vroulike geslag insluit en woorde in die enkelvoud, sal die meervoud insluit en woorde in die meervoud, sal die enkelvoud insluit. GRONDWET 1. NAAM VAN DIE GENOOTSKAP Die naam van die Genootskap is Braunvieh SA 2. DOELSTLLINGS 2.1 Onderhewig aan die bepalings van die Wet en hierdie Grondwet is die doelstellings van die Genootskap – a. Om die teelt en genetiese verbetering van die produksie potensiaal van diere in die Gebied aan te moedig; b. Om die rasegtheid van die ras in die Gebied te bewaar en om deur alle moontlike en beskikbare middele die belangstelling in die ras te bevorder; c. Om die versameling, bewaring en ontwikkeling van die ras deur goeie seleksie ingevolge die aanvaarde beskrywing van ‘n Braunvieh aan te moedig en om vemenging met ander rasse uit te skakel; d. Om rasstandaarde op te stel en te handhaaf gebaseer op prestasietoetsrekord en/of visuele inspeksie vir genetiese afwykings en bouvorm in so verre dit verwant is aan funksionele doeltreffendheid. Vir hierdie doel sal alle prestasiedata aan die Raad, inspekteurs en subkomitees beskikbaar gestel word; e. Om noukeurige verslae van die stambome en besonderhede van diere saam te stel, te bewaar en in stand te hou van alle diere wat deur die Genootskap by die Vereniging in die Kuddeboek geregistreer is; f. Om vir tentoonstelling doeleindes verskillende klasse vir die ras te verkry en beoordelaars te benoem wat bevoeg geag word om die ras te beoordeel; en om landbou genootskappe en andere te oortuig van die wenslikheid en noodsaaklikheid daarvan om slegs beoordelaars aan te stel wat deur die Genootskap aanbeveel word; g. Om die vertoning en mededinging van die ras op landboutentoonstellings te bevorder en aan te moedig; h. Om die verkoop van diere te bevorder; i. Om in die algemeen alles in sy vermoë te doen ter bevordering van die belange van sy lede in die Gebied met betrekking tot hul bedrywighede in verband met die ras. 2.2 Die Genootskap – a. Mag nie gemoeid wees met enige winsgewende bedrywighede of deel hê in enige besigheids-, professionele- of beroepsbedrywighede van enige van sy lede, of die voorsiening aan enige van sy lede van geldelike hulp of van enige perseel of aanhoudende dienste of fasiliteite wat deur beroep nie; en b. Het nie die mag om besigheid te bedryf nie, insluitende gewone handelstransaksies in die loop van besigheid, spekulatiewe transaksies, dividend verminderingsaksies, sowel as die aankoop van eiendom vir die verhuring daarvan op ‘n stelselmatige of gereelde basis. 3. MAGTE VAN DIE GENOOTSKAP Onderhewig aan die bepalings van die Grondwet sal die Genootskap die mag hê – a. Om kragtens sy lidmaatskap van die Vereniging en die verlening van regspersoonlikheid aan die Genootskap in terme van die Wet, sodanige funksies te vervul en pligte uit te voer soos deur die Wet neergelê; en b. Om oor die algemeen stappe te neem soortgelyk aan die wat ‘n regspersoon by wetgewing kan verrig ten einde sy doelstellings te bereik. 4. LIDMAATSKAP 4.1 Verkiesbaarheid Lidmaatskap van die Genootskap sal beperk word tot persone bo die ouderdom van 18 jaar, behoudens die bepalinge van Klousule 4.2.4 4.2. Indeling van Lidmaatskap 4.2.1 Gewone Lede Persone wat in die Gebied woon en wat direk of indirek by die teelt van diere betrokke is, kan vir lidmaatskap van die Genootskap as Gewone Lede in aanmerking kom. Sodanige lede sal al die regte en voorregte van lidmaatskap geniet, insluitende stemreg by enige vergadering van die Genootskap, en sal ook tot die Raad verkiesbaar wees: Op voorwaarde dat – a) Persone wat aktiewe telers van diere is en sodanige diere ooreenkomstig hierdie Grondwet registreer, sal as Aktiewe Gewone Lede bekend staan; en b) Alle ander Gewone Lede sal as Nie –Aktiewe bekend staan, en geen stemreg hê nie. 4.2.2 Lewenslange Erelede Vir spesiale dienste gelewer in belang van die ras mag die Algemene Jaarvergadering ‘n persoon tot Lewenslange Erelid verkies: Op voorwaarde dat dit op aanbeveling van die Raad geskied. Sodanige Lewenslange Erelid sal al die regte en voorregte van lidmaatskap geniet, insluitende stemreg by enige vergadering van die Genootskap en sal ook tot die Raad verkiesbaar wees. 4.2.3. Spesiale Erelede Enige persoon wie nie noodwendig aktief gemoeid was of is met die teelt van diere nie, mag deur die Raad op sodanige voorwaardes wat bepaal mag word tot Spesiale Erelid. ‘n Spesiale Erelid sal geen stemreg by vergaderings van die Genootskap hê nie en ook nie tot die Raad verkiesbaar wees nie. 4.2.4. Junior Lede Enige persoon onder die ouderdom van 18 jaar,mag mits die Raad dit goedkeur, ‘n Junior Lid word. Sodanige Junior Lid sal geen stemreg by vergaderings hê nie en nie tot die Raad verkiesbaar wees nie. Na die betaling van die vasgestelde gelde mag ‘n Junior Lid aan die ander aktiwiteite van die Genootskap deelneem. 4.3. Aansoek om Lidmaatskap 4.3.1. Aansoek om lidmaatskap van die Genootskap moet op die voorgeskrewe vorm aan die Genootskap gerig word. Die aansoek moet ook vergesel wees van die betrokke subskripsie en/of intreegeld en ander gelde soos uiteengesit in die Bylae van Gelde van die Genootskap. 4.3.2. Die Raad mag die aansoek om lidmaatskap van enige persoon aanvaar, hetsy onvoorwaardelik of op sodanige voorwaardes as wat die Raad mag bepaal, of enige aansoek weier. 4.3.3. Indien ‘n aansoek om lidmaatskap geweier is, sal die aansoeker geregtig wees op die terugbetaling van enige gelde wat sy aansoek vergesel het. 4.4. Regte en Voorregte van Lede Uitgesluit kurators van insolvente boedels en likwidateurs van maatskappye of private maatskappye sal die regte en voorregte van elke lid van die Genootskap persoonlik op homself van toepassing wees en is nie oordraagbaar nie, hetsy deur sy eie handeling of deur enige wetlike bepaling. Hierdie sal die volgende regte insluit – (a) om alle verslae en ander publikasies te ontvang wat deur die Genootskap vir verspreiding onder die lede uitgegee word; (b) om aansoek te doen vir die registrasie van diere in ooreenstemming met die bepalings van die Grondwet; (c) om alle algemene vergaderings van die Genootskap by te woon en om op sodanige vergaderings te stem; (d) om, indien beskikbaar, alle deskundige tegniese advies met betrekking tot aangeleenthede rakende die Braunvieh van die Genootskap se inspekteurs en amptenare te ontvang. Alle koste wat hieraan verbonde mag wees, moet deur die aansoeker betaal word; en (e) om die Genootskap se amptelike verslae te raadpleeg en te gebruik. 4.5 Maatskappy, Private Maatskappy, Vennootskap of Regspersoon 4.5.1 'n Maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon wat om Gewone Lidmaatskap aansoek doen, moet aan die Genootskap van tyd tot tyd sodanige feite en gegewens voorlê as wat nodig mag wees om die aard van die beherende aandeel daarin te bepaal en moet dan, of te eniger tyd daarna, benewens die vereiste gegewens wat van alle aansoekers verlang word, die Genootskap verder in kennis stel van die naam en adres van die persoon wat aangestel is om as verteenwoordiger by vergaderings van die Genootskap op te tree. Sodanige persoon sal die reg hê om skriftelik 'n plaasvervanger te benoem. Sodanige skriftelike benoeming moet die Genootskap nie later as voor die aanvang van die vergadering waarop sodanige plaasvervanger moet stem, bereik nie. 4.5.2 Alle stukke wat aan sodanige gevolmagtigde verteenwoordiger, soos in Klousule 4.5.1 uiteengesit, gerig is, word beskou as behoorlik op die maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon bestel te wees en by alle vergaderings wat deur sodanige gevolmagtigde verteenwoordiger namens die maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon bygewoon word, word die maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon beskou as behoorlik verteenwoordig te wees. 4.5.3 Die persoon wat, soos in Klousule 4.5.1 uiteengesit, aangewys is om sodanige maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon te verteenwoordig, mag tot die Raad verkies word. 4.5.4 Indien so 'n maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon in gebreke bly om aan die vereistes van Gewone Lidmaatskap te voldoen, soos in Klousule 4.2 uiteengesit, sal sy lidmaatskap van die Genootskap beëindig word en die bepalings van die volgende Klousule 4.5.5. sal mutatis mutandis op so 'n maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon van toepassing wees. 4.5.5 In die geval van die likwidasie van 'n maatskappy of private maatskappy of die ontbinding van 'n vennootskap of regspersoon, sal lidmaatskap van die Genootskap outomaties beëindig word: Met die verstande dat - (a) alle bedrae of gelde aan die Genootskap verskuldig op die datum van likwidasie of ontbinding deur die Genootskap van die likwidateur van sodanige maatskappy of private maatskappy of van die lede (hetsy gesamentlik of afsonderlik) van sodanige vennootskap of regspersoon gevorder sal word; (b) die likwidateur van sodanige maatskappy of private maatskappy en die lede van sodanige vennootskap of regspersoon verplig sal wees om al die verpligtinge van so 'n maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon na te kom ten opsigte van registrasies, oordragte of enige verpligtinge wat die maatskappy, private maatskappy, vennootskap of regspersoon as lid van die Genootskap moes nakom; en (c) enige gelde wat betaalbaar mag wees, soos kuddegelde, registrasies, oordragte of ander verpligtinge wat na so 'n outomatiese beëindiging van lidmaatskap nagekom moet word, ooreenkomstig die skaal vir Gewone Lede opgelê sal word. 4.6 Onttrekking van Prestasiedata Prestasiedata van lede wat aan die Nasionale Vleisbeesprestasieskema deelneem, mag op versoek van die Genootskap, onderhewig aan die voorwaardes soos deur die Vereniging se Bestuurskomitee vir die Geïntegreerde Registrasie en Genetiese Inligtingstelsel (Intergis), bepaal mag word, aan die Genootskap beskikbaar gestel word. Die Genootskap onderneem dat die data nie tot nadeel van 'n lid, of lede, of die Intergis aangewend sal word nie en dat verdere verwerking van sodanige data nie tot nadeel van, of strydig met die vereistes en bepalings van die gemelde skema sal wees nie. 4.7 Benutting van Prestasie- en Registrasiedata Alle lede aktief gemoeid met die teelt van diere moet alle prestasie inligting, soos deur die Vereniging gestoor, wat alleenlik nodig is vir die bevordering en voordeel van die ras, aan die Genootskap beskikbaar stel. 'n Verklaring te dien effekte moet deur alle lede onderteken word. 5. LEDEGELDE EN GELDE 5.1 Alle ledegelde of enige ander gelde en kommissie aan die Genootskap betaalbaar, word van tyd tot tyd deur die Raad bepaal en word vir kennisname op die eerste daaropvolgende algemene vergadering van die Genootskap voorgelê. 5.2 Die jaarlikse ledegelde is vooruitbetaalbaar op 1 Januarie van elke jaar en sal as agterstallig beskou word as dit nog nie op 30 Julie van dieselfdejaar betaal is nie. 5.3 Enige lid wie se ledegeld agterstallig is, of wat ander gelde en kommissie aan die Genootskap skuld ten opsigte van enige gelde of verpligtinge vir meer as 30 dae nadat 'n eis om die betaling daarvan per geregistreerde pos deur die Sekretaris aan hom gerig is, sal daarna geen regte en voorregte van lidmaatskap geniet voordat sodanige skulde aangesuiwer is nie. 5.4 Die Raad mag opdrag gee dat rente en/of boetes gehef word op alle agterstallige rekeninge teen 'n koers soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal mag word. 5.5 Enige lid wie, om watter rede ook al, ophou om 'n lid van die Genootskap te wees sal aanspreeklik bly vir alle bedrae wat ten tyde van die beëindiging van sy lidmaatskap deur hom aan die Genootskap verskuldig was. 5.6 Indien die Raad sou beslis dat die rekening van 'n lid agterstallig is of ten tyde van die beëindiging van sy lidmaatskap uitstaande is, sal so 'n lid, indien sy rekening vir invordering aan 'n firma van prokureurs oorhandig word, verantwoordelik gehou word vir die betaling van alle regskoste, invorderingsgelde, prokureursgelde en kliëntkostes wat dit mag meebring, tesame met die oorspronklike bedrag, boetes en eise wat deur hom aan die Genootskap verskuldig is. 6. BEDANKINGS EN SKORSING VAN LEDE 6.1 Bedanking van Lede Enige lid mag bedank as lid van die Genootskap deur nie minder nie as een maand voor die tyd skriftelik en per aangetekende pos kennis daarvan aan die Genootskap te gee: Met dien verstande dat - (a) sodanige bedanking minstens voor 31 Desember ingedien moet word; (b) geen ledegelde of gedeelte daarvan terugbetaalbaar sal wees nie; en (c) alle gelde aan die Genootskap verskuldig ten volle betaal is en die lid sy verpligtinge nagekom het ten opsigte van dokumente, rekords, registrasies en oordragte of enige ander verpligting met betrekking tot sy lidmaatskap deur die Genootskap vereis. 6.2 Skorsing van Lede Die Raad mag 'n lid skors en/of dienste aan enige lid opskort wat - (a) in gebreke gebly het om enige bedrag wat deur hom aan die Genootskap verskuldig is te betaal binne 60 dae nadat 'n skriftelike eis vir sodanige vereffening deur die Sekretaris onderteken, aan hom gepos is; (b) na oordeel van die Raad op enige wyse oneerbaar of afbrekend teenoor die karakter, of ten nadele van die belange van die Genootskap opgetree het; (c) die Grondwet of enige reël van die Genootskap oortree het; (d) skuldig bevind is op grond van oortreding van die Wet: Met dien verstande dat geen stappe vir skorsing teen 'n lid van die Genootskap geneem sal word nie, alvorens die Genootskap nie minstens 30 dae voor die datum van die Raadsvergadering waarop sodanige skorsing behandel sal word, 'n geregistreerde brief aan so 'n lid gerig het waarin hy in kennis gestel word van sy voorgestelde skorsing en waarin daar 'n beroep op hom gedoen word om persoonlik, of indien hy so verkies, deur sy behoorlik gemagtigde verteenwoordiger, sy kant van die saak op die Raadsvergadering te stel. 6.3 Enige lid wat geskors is, moet deur die Sekretaris skriftelik daarvan in kennis gestel word binne drie dae na die datum waarop die besluit met betrekking tot sy uitsetting goedgekeur is. 6.4 Na sodanige skorsing van 'n lid mag die Raad opdrag aan die Sekretaris gee om sy naam uit die Kuddeboek en enige ander registers of verslae van die Genootskap te verwyder en by die Vereniging aansoek doen vir die kanselering van alle registrasies ten opsigte van diere wat deur die geskorste lid geteel is en ten tyde van sy skorsing in sy besit was. Die Raad mag verder van die geskorste lid vereis om onverwyld alle registrasiesertifikate ten opsigte van diere wat ten tyde van sy skorsing in sy besit was, aan die Genootskap te oorhandig. 6.5 Vanaf datum van skorsing sal geen diere wat deur die geskorste lid geteel word, oorgedra of geregistreer word nie, geen geboortekennisgewing van hom ontvang sal aanvaar word nie en hy sal dienooreenkomstig in kennis gestel word. 6.6 Enige persoon wat opgehou het om lid van die Genootskap te wees, mag weer vir lidmaatskap in aanmerking kom ooreenkomstig die bepalings van Klousule 4.3 en nadat alle agterstallige skulde vereffen is. 7. REGISTER VAN LEDE 7.1 Die Genootskap sal 'n register van alle lede hou waarin alle inligting soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, ingeskryf moet word. 7.2 Elke lid moet die Genootskap skriftelik van 'n verandering van sy posadres in kennis stel en alle kennisgewings of publikasies wat aan 'n lid se aangetekende adres gestuur is, sal beskou word as behoorlik op sodanige lid bestel te wees. 7.3 Alle stukke wat per aangetekende pos deur die Sekretaris aan lede versend is, sal as bindend beskou word. 7.4 Die Sekretaris sal die Vereniging met inligting voorsien soos verlang met betrekking tot nuwe lidmaatskappe, bedankings en skorsing van lede (vir watter rede ookal), en posadresse van lede. 8. BESTUUR 8.1 Samestelling en Verkiesing van die Raad Die belange van die Genootskap sal beheer en bestuur word deur 'n Raad wat uit die volgende vyf lede sal bestaan en wat jaarliks tydens die Algemene Jaarvergadering verkies word: (a) 'n President; (b) 'n Vise-President; en (c) drie lede. 8.2 Metode van Verkiesing Verkiesing sal per geslote stembrief geskied. Sodanige stembrief sal geen nommer en/of handtekening bevat om die identiteit van die kieser te openbaar nie. 8.3 Addisionele Raadslede Benewens die vyf verkose lede sal daar ook die volgende persone wees wat op die Raad sal dien - 8.3.1 Verteenwoordiger van die Landbounavorsingsraad/Diereverbeteringsinstituut Sodanige lid mag na oorlegpleging met die Direkteur van die LNRDiereverbeteringsinstituut op die Raad gekoopteer word in 'n adviserende hoedanigheid met die reg om alle vergaderings by te woon, maar sonder stemreg. 8.3.2 Ere-Lewenslange Vise-President Vir uitsonderlike dienste aan die ras mag persone op aanbeveling van die Raad by 'n Algemene Jaarvergadering tot Ere-Lewenslange Vise-President verkies word: Met dien verstande dat sodanige aanbeveling deur ten minste driekwart van die lede op die vergadering goedgekeur word. Sodanige persoon sal 'n ex officio lid van die Raad wees met stemreg. 8.3.3 Die Sekretaris Die Sekretaris, of in sy afwesigheid 'n ander senior amptenaar van die Genootskap, wat alle vergadering van die Genootskap sal bywoon en die reg het om aan besprekings deel te neem, maar egter nie stemreg sal hê nie. 8.4 Indien 'n lid van die Raad te sterwe kom, bedank, ophou om lid van die Genootskap te wees of sy amp verbeur ingevolge Klousule 8.6 kan die Raad 'n ander lid van die Genootskap aanwys as sy plaasvervanger met volle magte vir die res van sy dienstermyn. Die Raad sal as behoorlik gekonstitueer beskou word en sal voortgaan om al die magte wat aan hom opgedra is uit te voer nieteenstaande enige vakatures wat daarin mag ontstaan. 8.5 In die geval waar die amp van President of Vise-President vakant raak voor die verstryking van die tydperk waarvoor hy tot die Raad verkies is, moet die Raad by sy daaropvolgende vergadering per geslote stembriefies persone uit sy geledere nomineer en een verkies om die vakature vir die onverstreke tydperk te vul. 8.6 Lede van die Raad wat van twee agtereenvolgende vergaderings van die Raad afwesig was sonder toestemming of grondige rede, sal hul amp verbeur. 8.7 Uitvoerende Komitee Die Uitvoerende Komitee van die Raad, wat magte sal beklee soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, sal bestaan uit die President en/of Vise-President, Ere-Tesourier en Sekretaris. Alle verrigtinge of besluite van die Uitvoerende Komitee moet op die daaropvolgende Raadsvergadering goedgekeur word. 9. MAGTE EN PLIGTE VAN DIE RAAD Die Raad het, onderworpe aan die bepalings van die Grondwet en die besluit van die Genootskap soos van tyd tot tyd geneem word, die mag om sodanig op te tree as wat in belang van die Genootskap is, of vir die bevordering en volvoering van sy doelstellings wat nodig of wenslik geag mag word. In besonder her die Raad die mag om - (a) na goeddenke sodanige ouditeure, prokureurs of ander regsverteenwoordigers, agente, ampsdraers of amptenare of ander werknemers permanent, tydelik of met die oog op spesiale dienste aan te stel, te ontslaan, of te skors; om hulle magte en pligte te bepaal, hul vergoeding en diensvoorwaardes vas te stel en om sodanige voorsorg te tref vir die behoorlike uitvoering van hul pligte, as wat in besondere gevalle raadsaam geag mag word; (b) 'n geding in te stel, te voer, te laat voer, te verdedig, of 'n skikking aan te gaan ten opsigte van enige geregtelike stappe deur of teen die Genootskap of teen enige van sy ampsdraers of amptenare of ander werknemers in verband met die aangeleenthede van die Genootskap; en om enige skulde wat betaalbaar is te verminder, of uitstel te verleen vir die afbetaling daarvan of die voldoening aan enige eise of aanskrywing deur of teen die Genootskap; (c) een of meer bankrekenings namens die Genootskap te open en enige wissel, skuldbewys, tjek of ander verhandelbare dokument wat op sake van die Genootskap betrekking het te trek, te aanvaar, te endosseer, aan te gaan of uit te voer; (d) enige gelde wat nie vir die onmiddellike behoeftes van die Genootskap nodig is nie te belê of op enige ander wyse te behartig teen sodanige sekuriteite en op sodanige voorwaardes soos die Raad mag goed vind en van tyd tot tyd enige sodanige beleggings te verander of te onttrek: Met die verstande dat fondse beskikbaar vir beleggings slegs belê mag word by geregistreerde finansiële instellings soos omskryf in Artikel 1 van die Wet op Finansiële Instellings (Belegging van Fondse), 1984, en in effekte genoteer op 'n gelisensieerde effektebeurs soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Beheer van Effektebeurse, 1985 (Wet No. 1 van 1985); (e) op sekuriteit van enige eiendom van die Genootskap geld vir die Genootskap te leen; betaling van lenings op enige wyse te sekureer, insluitende die verhipotekering of verpanding van goed, en sonder om afbreuk te doen aan die algemeenheid daarvan, in besonder deur die uitreiking van die soort skuldbrief of skuldbriefeffekte, met of sonder sekuriteit; (f) geboue, grond, goedere, roerende bates en besittings te koop, te huur, op verband te neem of vir die Genootskap aan te skaf; om roerende goedere of vaste eiendom van die Genootskap te verkoop, te verpand, te verhuur, te vervreem of andersins daarvan ontslae te raak en die vergoeding daaruit verkry op so 'n wyse aan te wend as wat tot die grootste voordeel van die Genootskap gereken mag word; (g) vrywarings en waarborge en borgstellings aan te gaan en betaling daar kragtens op enige wyse te sekureer; (h) die dienste van enige persoon of lid van die Genootskap te koopteer en om subkomitees te benoem op sodanige voorwaardes en sodanige magte aan hul te verleen as wat van tyd tot tyd wenslik geag mag word. Die President en Vise-President van die Genootskap is ex of Ticio lede van alle subkomitees met alle regte en voorregte; (i) inspekteurs aan te stel om alle geregistreerde diere, te keur en vir die doel van enige ander werksaamhede waarvoor lede van die Genootskap die dienste van inspekteurs mag verlang en om aan sodanige inspekteurs opdragte te gee en magte te verleen met betrekking tot hul pligte om te verseker dat die doelstellings van die Genootskap uitgevoer word, of om hulle te ontslaan; (j) opdrag te gee aan inspekteurs en/of ander amptenare van die Genootskap om ondersoek in te stel na gevalle waar daar nie behoorlik rekords gehou word nie of waar daar twyfel mag ontstaan met betrekking tot die identiteit van 'n dier en om sodanige stappe te neem soos in die belang van die Genootskap wenslik geag mag word; (k) enige persoon of persone vir dienste gelewer te vergoed en pensioen- en ander aansporingskemas en gratifikasies ten opsigte van ampsdraers en werknemers tot stand te bring; (I) algemene vergaderings van die Genootskap te belê, of na aanleiding van 'n spesiale versoek daartoe wat volgens die bepalings van die Grondwet gerig is, of andersins indien dit noodsaaklik geag word; (m) aan enige lid van die Raad of enige amptenaar of werknemer van die Genootskap verlof tot afwesigheid toe te staan vir enige tydperk en op sodanige voorwaardes as wat in elke geval bepaal mag word; (n) sodanige strawwe of boetes op te lê of af te dwing as wat van tyd tot tyd vir lede van die Genootskap bepaal mag word vir die oortreding of skending van die Grondwet, reëls en regulasies van die Genootskap; (o) onderhewig aan die bepalings van Klousule 5, die ledegelde of verpligtinge van lede van tyd tot tyd te wysig of aan te pas en om enige bykomende gelde en verpligtinge voor te skryf soos nodig geag mag word; (p) al die koste en rekeninge met betrekking tot die administrasie en bestuur van die Genootskap te betaal; (q) aansoeke om lidmaatskap te ontvang en te oorweeg en dit na eie oordeel te aanvaar of af te wys; (r) gelde, donasies en ander skulde en fondse in te samel en te ontvang en dit tot voordeel van die Genootskap en bevordering van die Braunvieh aan te wend; (s) reëls en regulasies met betrekking tot die beheer van sake en die uitvoer van die doelstellings van die Genootskap op te stel, te wysig of op te hef; (t) ondersoek in te stel na geskille wat uit die toepassing van die Grondwet mag ontstaan en om uitsluitsel daaromtrent te gee; (u) ondanks enige strydige bepalings in hierdie Grondwet vervat, met die goedkeuring van die Algemene Jaarvergadering, vrystelling te verleen van enige bepalings van hierdie Grondwet of versagting in gevalle van meriete soos deur die Raad besluit; (v) enige bylae wat by die Grondwet aangeheg is, te verander of te wysig soos van tyd tot tyd nodig geag mag word; (w) verkope van diere te organiseer en te bevorder, hetsy deur openbare veilings of uit die hand en om vir hierdie doel afslaers en agente aan te stel; (x) verteenwoordiger/s op die Algemene Jaarvergadering van die Vereniging aan te stel en om 'n persoon of persone te benoem om die Genootskap op enige komitee, liggaam of organisasie te verteenwoordig; (y) een of meer lede of amptenare aan te stel met die gesag om namens die Genootskap dokumente te onderteken, stukke en gegewens te ontvang, geregtelike stappe te doen, op te tree, 'n eis in te stel, of gedagvaar te word, sodat die sake van die Genootskap beter en gemakliker uitgevoer en afgehandel kan word; (z) ooreenkomstig Klousule 6, die lidmaatskap van enige persoon te beëindig; (aa) ooreenkomstig Klousule 5.3, te weier om inspeksie-, registrasie- en ander werk vir lede te doen indien hulle uitstaande skuld by die Genootskap het; (bb) rasstandaarde op te stel en minimum vereistes en ander standaarde neer te lê waarvolgens - (i) diere deur inspekteurs geïnspekteer word vir bevestiging of kansellasie van registrasie; (ii) onderworpe aan die bepalings van die Wet, aansoeke vir die in- en uitvoer van diere, semen en embrio's te oorweeg; (iii) semen- en eiselskenkers ingevolge die Wet goed te keur vir embriooorplasingsdoeleindes; en (iv) bulle, ingevolge die bepalings van die Wet, aanbeveel word vir goedkeuring vir die verkoop van semen; (cc) sodanige reëls en voorwaardes op te stel met betrekking tot die kwalifikasies en benoeming van beoordelaars van die ras as wat nodig geag mag word: Met dien verstande dat geen persoon as beoordelaar van die ras aangestel sal word alvorens hy voldoen aan sodanige vereistes as wat deur die Raad bepaal mag word nie. Verder om van tyd tot tyd die paneel van beoordelaars in heroorweging te neem en om daaruit sodanige name te verwyder as wat nodig geag mag word; en (dd) in die algemeen alles wat nodig is te doen met die oog op die welvaart van die Genootskap en die hantering van sy sake, altyd op voorwaarde dat enige stappe wat gedoen word of opdragte wat gegee word, nie teenstrydig sal wees met die bepalings van die Wet en die Grondwet nie. 10. VERGADERINGS 10.1 Uitvoerende Komiteevergaderings Die Uitvoerende Komitee sal wanneer nodig vergader om die pligte wat deur die Raad aan hom opgedra is, uit te voer. 10.1.1 'n Raadslid mag die President verlof vra om persoonlik enige sake van belang voor die Uitvoerende Komitee te lê: Op voorwaarde dat hy volledig op skrif stel wat die aard van die saak is. Indien die President besluit dat die saak van genoegsame belang en dringendheid is, mag hy verlof verleen dat so 'n Raadslid die Uitvoerende Komiteevergadering bywoon om, met toestemming van die Komitee, die vergadering toe te spreek. 10.1.2 Indien die President nie die saak van genoegsame belang ag nie mag hy verlof tot bywoning weier en indien hy so oordeel, toesien dat die aangeleentheid op die sakelys geplaas word. 10.2 Raadsvergaderings 10.2.1 Die Raad sal op sodanige tyd en plek vergader as wat van tyd tot tyd deur die Raad bepaal mag word, of soos wat die President of in sy afwesigheid die Vise-President mag besluit: Op voorwaarde dat minstens twee Raadsvergaderings gedurende elke finansiële jaar gehou sal word. 10.2.2 'n Spesiale Raadsvergadering - (a) mag deur die President (of in sy afwesigheid deur die Vise-President) belê word op sodanige tyd en plek as wat sodanige ampsbekleër mag besluit, of (b) sal belê word op grond van 'n aansoek onderteken deur nie minder nie as twee Raadslede waarin die redes vir die vergadering gemeld word. Sodanige aansoek moet aan die Sekretaris gerig word. 10.2.3 Skriftelike kennisgewing van die tyd, datum en plek van 'n voorgenome Raadsvergadering moet nie minder nie as 21 dae voor die vergadering sal plaasvind, deur die Sekretaris aan elke lid van die Raad gepos word. 10.2.4 Geen besluit van die Raad met betrekking tot enige aangeleentheid sal gewysig of verander word nie tensy die besluit om dit te wysig of verander deur 'n vergadering waarvan nie minder nie as 14 dae kennis aan alle Raadslede gegee is waarin die redes vir die wysiging of verandering van die besluit duidelik uiteengesit is: Met die verstande dat 'n besluit sonder kennisgewing gewysig mag word indien al die lede van die Raad teenwoordig is en so besluit. 10.3 Algemene Vergaderings 10.3.1 'n Algemene vergadering van die Genootskap wat bekend staan as die Algemene Jaarvergadering word een keer in 'n finansiële jaar gehou op so 'n tyd en plek as wat die Raad mag bepaal. 10.3.2 By so 'n Algemene Jaarvergadering sal die Raad sy jaarverslag aan die Genootskap voorlê, tesame met 'n behoorlike balansstaat en 'n verslag van die finansiële jaar waarop die verslag betrekking het, soos opgestel deur 'n onafhanklike ouditeur of rekenmeester. 10.3.3 'n Spesiale Algemene Vergadering van die Genootskap mag te enigertyd belê word deur (a) die Raad; of (b) die President (of in sy afwesigheid die Vise-President) en sal in laasgenoemde geval belê word op grond van 'n skriftelike aansoek daartoe, wat aan die Sekretaris gerig is en wat deur nie minder nie as tien lede van die Genootskap onderteken is. So 'n aansoek moet die doelstellings van die vergadering duidelik uiteensit en gedurende sodanige vergadering mag slegs die gemelde sake behandel word. 10.3.4 'n Voorlopige kennisgewing van die tyd, datum en plek van 'n Algemene Jaarvergadering moet minstens 60 dae voor die vergadering deur die Sekretaris aan elke lid gepos word. Enige lid wat van plan is om enige saak by die Algemene Jaarvergadering vir bespreking voor te lê, moet die Sekretaris nie minder nie as 40 dae voor die vergadering, skriftelik daarvan in kennis stel. Geen onderwerp wat deur enige lid voorgestel is, sal op die sakelys van die Algemene Jaarvergadering geplaas word indien die verlangde kennisgewing van die voorstel nie ooreenkomstig hierdie subklousule gegee is nie. 10.3.5 'n Finale kennisgewing van die tyd, datum en plek waarop enige algemene vergadering gehou sal word, tesame met die sakelys vir die vergadering, moet minstens 30 dae voordie vergadering aan elke lid van die Genootskap gepos word. 10.3.6 Daar sal geen besluit op 'n algemene vergadering geneem word tensy kennis daarvan op die sakelys, wat tesame met die kennisgewing van vergadering aan lede gestuur is verskyn nie, of tensy so 'n vergadering met 'n twee-derde meerderheid van stemme, van lede wat teenwoordig is en stemgeregtig is, besluit om enige saak wat nie spesifiek op die agenda is nie, te bespreek en daaroor te stem, ongeag die bepaling van Klousule 10.3.3(b). 10.3.7 Enige algemene vergadering mag verdaag word deur 'n twee-derde meerderheidstem van die lede wat daarby teenwoordig is. 10.3.8 Vir die doel om besluite op 'n Algemene Jaarvergadering geneem, te herroep, word 'n twee-derde meerderheid op 'n algemene vergadering vereis. 10.4 Voorsitter by Vergaderings Die President beklee die voorsitterstoel by alle vergaderings en indien hy afwesig is beklee die Vise-President die amp. Indien daar nie een van hierdie ampsdraers by 'n vergadering teenwoordig is nie, mag die lede wat teenwoordig is 'n ander lid verkies om by sodanige vergadering die voorsitterstoel te beklee en enige persoon wat op so 'n manier verkies is, sal met betrekking tot daardie vergadering oor die mag beskik om al die pligte van die President uit te voer. 10.5 Neem van Besluite Alle sake wat voor enige vergadering gelê word, tensy andersins voorsien word, moet besleg word deur die meerderheid van stemme van die lede wat by die vergadering teenwoordig is en stemgeregtig is en in die geval van 'n staking van stemme sal die persoon wat by daardie vergadering die voorsitterstoel inneem benewens sy gewone stem, ook 'n beslissende stem hê. 10.6 Metode van Stemming Onderworpe aan die bepalings van Klousule 8, sal stemming by alle vergaderings met die opsteek van hande geskied, tensy enige teenwoordige lid stemming per briefies verlang in welke geval stemming per geslote stembriefies sal geskied. 10.7 Ongeldigheid van Besluite Geen saak wat behoorlik en grondwetlik op enige vergadering afgehandel is, kan ongeldig verklaar word slegs weens die feit dat enige lid geen kennisgewing kragtens die vereistes van die Grondwet ontvang het nie 10.8 Kworums 10.8.1 Twee lede wat persoonlik teenwoordig is by enige Uitvoerende Komiteevergadering sal 'n kworum vorm vir sodanige Uitvoerende Komiteevergadering. 10.8.2 Drie Raadslede wat persoonlik teenwoordig is by enige Raadsvergadering en wat stemgeregtig is sal 'n kworum vorm vir so 'n Raadsvergadering. 10.8.3 Vyf van die lede van die Genootskap wat persoonlik teenwoordig is by die aanvang van enige algemene vergadering sal 'n kworum vorm vir so 'n vergadering. 10.8.4 Indien daar by enige vergadering nie 'n kworum teenwoordig is nie kan die vergadering verdaag tot 'n tyd (nie minder nie as 14 dae daarna) en plek wat deur die lede persoonlik teenwoordig bepaal word. Op so 'n uitgestelde vergadering vorm die teenwoordige lede wel ‘n kworum: Met dien verstande dat enige vergadering waar daar geen kworum is nie, maar waar die President of Vise-President teenwoordig is, vir 'n halfuur verdaag moet word waarna die lede wat dan teenwoordig is, 'n kworum vorm vir die afhandeling vansodanige sake (behalwe grondwetlike wysigings) as wat deur die lid wat die voorsitterstoel beklee, dringend mag verklaar. Sodanige verdaging vir 'n halfuur sal nie tot nadeel van die regte van die vergadering wees nie om nadat aandag aan die noodsaaklike aangeleenthede gegee is, te verdaag tot 'n tyd en plek soos hierin bepaal. 10.8.5 Sodra 'n vergadering op so 'n wyse uitgestel word, sal 'n kennisgewing binne sewe dae na die vergadering aan alle lede gestuur word waarin die datum, plek en tyd van die uitgestelde vergadering en die rede vir sodanige vergadering gemeld word. 10.9 Notules van Vergaderings 10.9.1 'n Afskrif van die notules van alle algemene vergaderings sal aan elke lid van die Genootskap voorsien word. Afskrifte van die notules van Raadsvergaderings en Subkomiteevergaderings sal aan alle persone voorsien wat op sodanige komitees dien. 10.9.2 Die notule van alle vergaderings geteken deur die President of 'n persoon wie die voorsitterstoel beklee gedurende die daaropvolgende vergadering, sal bewys wees daarvan dat alle verrigtinge behoorlik geskied het en dat alle verkiesings, aanstellings en besluite aanvaar gedurende sodanige vergadering, bindend en van krag is. 11. FINANSIëLE BEPALINGS 11. Die Raad sal een of meer bankrekenings namens die Genootskap open, waarin alle gelde wat die Genootskap ookal mag ontvang, gedeponeer moet word. 11.2 Alle betalings uit die fondse van die Genootskap word per tjek gedoen en die tjeks moet deur die Sekretaris of 'n persoon wat deur die Raad daartoe aangestel is, geteken en mede-onderteken word, deur sodanige persoon of persone as wat deur die Raad daartoe gemagtig is, ooreenkomstig Klousule 9(y): Op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is die Raad sal verhoed om 'n kleinkas fonds in stand te hou en te beheer nie. Ook kan sodanige gereelde en gewone maandelikse rekenings wat nie 'n bedrag wat deur die Raad bepaal is, oorskry nie, betaal word: Op voorwaarde dat die totale bedrag wat nodig is vir die betaling van sodanige rekenings per tjek getrek word. 11.3 Die Raad moet toesien dat die Genootskap behoorlike rekeningboeke hou. 11.4 Al die eiendom van die Genootskap is gevestig in die Raad. 11.5 Die inkomste en eiendom van die Genootskap, uit watter bron ookal ontvang, insluitende profyte en winste, sal enkel en alleen aangewend word ter bevordering van die doelstellings van die Genootskap en geen deel daarvan sal direk of indirek as dividend of bonus of andersins betaal of oorgedra word aan enige persone wat te eniger tyd lede van die Genootskap is of was nie: Op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is die betaling in goeder trou aan enige werknemer of ander persoon vir dienste wat aan die Genootskap gelewer is, kan verhoed nie. 11.6 Die finansiële jaar van die Genootskap neem 'n aanvang op 1 Januarie van elke jaar en sluit op 31 Desember van daardie jaar. 12. AFFILIASIES Die Genootskap - (a) sal, onderworpe aan die bepalings van die Wet, 'n lid van die Vereniging wees en sal sodanige lidmaatskap in stand hou op die voorwaardes soos in die Konstitusie van die Vereniging bepaal; en (b) kan verder met enige vereniging, genootskap of organisasie waarvan die doelstellings met dié van die Genootskap ooreenstem affilieer of inkorporeer op voorwaarde dat so 'n besluit goedgekeur word deur minstens twee-derdes van die stemgeregtigde lede wat by enige algemene vergadering van die Genootskap persoonlik teenwoordig is en stem. 13. VERKIESING VAN VERTEENWOORDIGER/S TOT DIE ALGEMENE JAARVERGADERING VAN DIE VERENIGING Die President van die Genootskap sal die verteenwoordiger van die Genootskap wees met die Vise-President of enige ander raadslid as sy sekundus. Indien die Genootskap kwalifiseer om meer as een verteenwoordiger te hê sal sodanige verteenwoordiger deur die Raad van die Genootskap verkies word. 14. GRONDWETLIKE WYSIGINGS 14.1 Byvoegings tot, of wysigings of veranderings van die Grondwet mag slegs aangebring word deur 'n meerderheids besluit van nie minder nie as twee-derdes van die lede wat by 'n algemene vergadering van die Genootskap teenwoordig en stemgeregtig is en stem. Ook moet van die voorgestelde wysigings of byvoegings van die Grondwet asook van die vergadering skriftelik kennis gegee word aan elke lid van die Genootskap nie minder nie as 30 dae voor die vergadering. 14.2 Sodanige byvoeging tot, of wysiging van die Grondwet wat goedgekeur is soos in Klousule 14.1 hiervan beskryf, moet binne 30 dae nadat die wysiging aangebring is aan die Vereniging voorgelê word en dit sal 90 dae nadat dit aldus voorgelê is, in werking tree: Met dien verstande dat indien die Vereniging van mening is dat die byvoeging en wysiging onbestaanbaar is met die bepalings van die Wet en die Konstitusie van die Vereniging sal die Genootskap daarvan in kennis gestel word waama sodanige byvoeging en wysiging van nul en gener waarde sal word. 14.3 Enige wysiging van die Grondwet moet aan die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens voorgelê word. 15. KANTOOR VAN DIE GENOOTSKAP Die kantoor van die Genootskap sal op 'n plek wees soos wat die Raad mag bepaal. 16. ONTBINDING VAN DIE GENOOTSKAP Indien daar na die beëindiging of ontbinding van die Genootskap en nadat al die skulde en verpligtinge nagekom is, enige eiendom oorbly, sal sodanige eiendom nie onder die lede van die Genootskap verdeel of aan hul uitbetaal word nie, maar geskenk of oorgedra word aan sodanige ander instellings waarvan die doelstellings ooreenstem met dié van die Genootskap soos deur die meerderheid op 'n algemene vergadering van die Genootskap besluit. besluit, en wat opsigself vrygestel is van inkomstebelasting kragtens Artikel 10(1)(cA)(i) van die Inkomstebelastingwet. 17. VRYWARING Lede van die Raad en van die Genootskap wat betrokke is by Genootskapwerksaamhede op instruksie van die Raad, is en word hiermee vrygestel van enige eise, verliese of uitgawes voortspruitend uit sodanige werksaamhede: Op voorwaarde dat hulle bona fide opgetree het en nie skuldig was aan pligsversuim of oneerlikheid nie. 18. OUTENTIEKE LESING VAN HIERDIE GRONDWET Aangesien hierdie Grondwet en die bygaande Bylaes in Afrikaans opgestel, ingedien en oorweeg is, word die Afrikaanse weergawe as outentiek beskou. VERORDENINGE 1. KUDDEBOEK 1.1 Afdelings Die Genootskap sal toesien dat die Vereniging rekord hou van alle geregistreerde Braunvieh beeste en dat die Kuddeboek wat bekend sal staan as die Suid-Afrikaanse Braunvieh kuddeboek uit die volgende twee afdelings sal bestaan, nl. (a) 'n Hulpstamboekafdeling; en (b) 'n Vol geregistreerde Afdeling van die Kuddeboek. 1.1.1 Hulpstamboekafdeling (a) Hulpstamboek A Enige vroulike dier wat uit 'n kudde kom waarvan die teler 'n bevredigende verslag van afstamming aan die Raad kan verstrek en wat aan die minimum rasstandaarde voldoen, sal vir registrasie in die Hulpstamboek A Afdeling in aanmerking kom. (b) Hulpstamboek B Die vroulike afstammelinge van die parings van Hulpstamboek A koeie en Vol geregistreerde bulle sal vir registrasie in die Hulpstamboek B Afdeling in aanmerking kom op voorwaarde dat hulle aan die minimum ras standaarde en aan al die ander vereistes ten opsigte van registrasie voldoen. 1.1.2 Vol geregistreerde Afdeling van die Kuddeboek Vir hierdie afdeling van die Kuddeboek kom die volgende diere, indien hulle voldoen aan die minimum ras standaarde en aan al die ander vereistes ten opsigte van registrasie, in aanmerking vir registrasie - (a) alle afstammelinge van Hulpstamboek B-koeie en Vol geregistreerde bulle van die ras; en (b) alle afstammelinge van Vol geregistreerde diere. 1.2 Onthoringde of Poenskop Diere 1.2.1 Die onthoring van diere word toegelaat. Onthoringde en gehoringde diere sal nie in aparte afdelings van die Kuddeboek registreerword nie. 1.2.2 In hierdie Verordening beteken "poenskop" 'n natuurlike poenskop en sluit dit "los horinkies" in. 1.2.3 Alle diere wat poenskop of met los horinkies gebore word, sal tydens registrasie die toepaslike letters, soos in Verordening 1.2.4 uiteengesit, toegeken word welke letters onder die naam van die dier op die registrasiesertifikaat gedruk sal word. 1.2.4 Die toepaslike letters is as volg: (a) P : 'n Poenskop dier soos omskryf in Verordening 1.2.2 en/of 'n dier waarvan een of albei ouers "P" of "PP" is.(b) PP : 'n Dier wat 'n natuurlike poenskop is en waarvan albei die ouers "P" of "PP" is. 2. VOORVOEGSEL EN KUDDEKENMERK 2.1 Diere sal nie vir aantekening of registrasie aanvaar word nie tensy die teler voor die tyd, deur die Genootskap by die Vereniging vir sy uitsluitlike gebruik 'n voorvoegsel registreer waardeur al die diere wat deur hom geteel is en aangeteken of geregistreer word, onderskei sal word. 2.2 Geen voorvoegsel mag 18 karakters oorskry nie, en die naam van 'n dorp, poskantoor of stad in die Gebied sal nie aanvaar word vir registrasie as 'n voorvoegsel nie. 2.3 Die kuddekenmerk, by die Vereniging geregistreer vir die teler se uitsluitlike gebruik, mag nie vier spasies oorskry nie en sal uit letters bestaan. 2.4 Aansoek om registrasie van sodanige voorvoegsel en kuddekenmerk word by dieSekretaris gedoen en moet vergesel gaan van sodanige registrasiegelde as wat van tyd tot tyd deur die Raad of die Vereniging bepaal mag word. 2.5 Die kenmerkletters sal deur die Genootskap toegeken word aan telers namate hulle aansoek doen. 2.6 Die oordrag van 'n voorvoegsel van een teler na 'n ander sal nie toegelaat word nie behalwe onder sodanige omstandighede en aan sodanige persone as waarvoor in die Verordeninge van die Konstitusie van die Vereniging voorsiening gemaak word. 3. IDENTIFIKASIE 3.1 Die Genootskap se amptelike stelsel van permanente identifikasie van diere wat vir registrasie in die Kuddeboek in aanmerking kom, is oortatoeëring. 3.2 Die identifikasie van kalwers sal bestaan uit - (a) kuddekenmerkletters wat nie meer as VI ER spasies mag beslaan nie; (b) 'n jaarsyfer wat sal bestaan uit die laaste TWEE syfers van die jaar waarin die dier gebore is; en (c) 'n volgnommer van elke dier wat nie meer as VI ER syfers sal beloop nie, en elkejaar by EEN sal begin. 3.3 Elke kalf moet binne 60 dae na geboorte deur die teler geïdentifiseer word. 3.4 Wanneer identifikasiemerke eenmaal aan 'n dier aangebring is, selfs as dit foutief, vaag, defektief of onleesbaar is, mag onder geen omstandighede reg gemaak, verbeter, verander of gewysig word nie, tensy die Sekretaris vooraf skriftelik daartoe toestemming gee nie. 3.5 Indien 'n teler met die identifikasie van 'n dier 'n fout begaan, of wanneer die identifikasiemerk vaag of onleesbaar word, moet die eienaar van die dier die Sekretaris skriftelik daarvan in kennis stel en die dier sal dan weer getatoeëer word in die teenwoordigheid van 'n inspekteur wat deur die Raad daartoe aangestel is nadat sodanige inspekteur oortuig is van die ware identiteit van die dier. 3.6. Daar mag geen byvoeging van enige ander tatoeëermerke van watter aard ook al in die ore of liggaam van 'n dier deur die teler of eienaar daarvan of deur sy agent aangebring word nie en dit word ten strengste verbied en diere wat sulke merke dra, mag blootgestel word aan diskwalifikasie. 3.7 Behalwe vir die moontlike verpligte brand van diere soos bepaal deur wetgewing of die vrywillige brand van diere geregistreer in die Vol geregistreerde Afdeling van die Kuddeboek met die geregistreerde brandmerk van die Vereniging, is die aanbring van enige ander brand hoegenaamd, deur die teler of eienaar of sy agent, streng verbode en die registrasie sertifikaat van enige dier so gemerk sal gekanselleer word. 3.8 Geen dier mag verkoop of oorgedra word indien dit nie duidelik geïdentifiseer is nie. 4. NAME 4.1 Geen dier sal in aanmerking kom vir inskrywing in die Kuddeboek nie tensy dit duidelik gemerk en uitdruklik van 'n naam of nommer, wat die naam verteenwoordig, voorsien is. Die Raad het die reg om enige aansoek ten opsigte van 'n dier wat na sy oordeel nie duidelik gemerk is nie, of 'n misleidende naam het, te weier. 4.2 Die naam sal die voorvoegsel wat vir die teler geregistreer is insluit, en insluitende die voorvoegsel, mag geen naam uit meer as vier woorde bestaan nie, en uitsluitend die voorvoegsel, sal dit nie 20 spasies oorskry nie. 4.3 Indien die naam van 'n dier eers aangeteken of geregistreer is, kan dit daarna nie weer gewysig of verander word nie, tensy die naam 'n ooglopende fout openbaar, in welke geval die naam dan net op so 'n manier verander sal word as wat nodig is om die fout te herstel. 5. DEKKING- EN INSEMINERING SERTIFIKATE EN DIE GESAMENTLIKE BESIT VAN BULLE 5.1 Dekking- of Inseminering sertifikate 5.1.1 Indien 'n dragtige dier, geregistreer of geskik vir registrasie, verkoop word moet die verkoper die koper van 'n dekkingsertifikaat (natuurlike dekking) of 'n inseminering sertifikaat (kunsmatige inseminering) voorsien. 5.1.2 Sodanige sertifikaat moet die naam en registrasienommer van die bul, die naam en registrasienommer van die koei wat betrokke is verstrek, asook die datum van dekking of inseminering. 5.1.3 Ingeval die presiese datum van dekking nie bekend is nie, moet die dekkingsertifikaat die tydperk aandui wat die betrokke vroulike dier en genoemde bul saam geloop het en verder dat die betrokke dier nie gedurende daardie tydperk deur enige ander bul gedek kon gewees het nie. 5.2 Gesamentlike besit van Bulle 5.2.1 In die geval van gesamentlike besit van bulle, moet die volle naam en adres van elke mede-eienaar op rekord wees by die Vereniging. 5.2.2 Indien 'n teler die gebruik van sy bul of bulle deur 'n mede-teler toelaat, moet die toepaslike bepalings in die Wet en hierdie Verordening nagekom word. 6. REëLS MET BETREKKING TOT KUNSMATIGE INSEMINERING 6.1 Diere wat wettiglik deur kunsmatige inseminering verwek is sal vir registrasie in aanmerking kom: Op voorwaarde dat aan al die vereistes van die Grondwet mutatis mutandis voldoen is. 6.2 Indien verskillende bulle vir die verskaffing van semen gebruik word vir die kunsmatige inseminering van dieselfde vroulike dier, minder as 28 dae uitmekaar, sal geen nageslag wat verwek mag word vir registrasie in aanmerking kom nie, ongeag die bepalings van Verordening 6.1 hiervan, tensy die vaderskap bevestig is deur 'n bloedtiperingtoets of enige ander beproefde wetenskaplike metode om ouerskap te bevestig. 6.3 Die Genootskap behou die reg om deur middel van sy ampsdraers toesig te hou oor en/of inspeksie uit te voer aangaande die noukeurige aantekening van die toepassing van kunsmatige inseminering deur sy telers. 6.4 Die Genootskap en die Vereniging behou die reg om te weier om nageslag wat deur kunsmatige inseminering verwek is, te registreer indien enige van hierdie reëls of die bepalings van die Wet nie ten volle nagekom is nie. 6.5 Telers wat in die lande buite Suid-Afrika woonagtig is en wat die voorregte van registrasie van diere geniet, mag aansoek doen om die registrasie van kunsmatig verwekte nageslag: Op voorwaarde dat die semen verkry is van 'n bron wat deur die Genootskap goedgekeur is, en verder op voorwaarde dat die opvang van die semen, die hantering daarvan, die inseminering van diere en die hou van verslae so gedoen word as wat die Genootskap van tyd tot tyd mag goedkeur. 6.6 Die Genootskap bevestig dat, onderhewig aan die bepalings van die Wet, individuele telers onbeperkte hoeveelhede semen van hul eie bulle vir gebruik op hul eie en ander diere mag opvang, en dat die nageslag verwek deur die gebruikmaking van sodanige semen geskik is vir registrasie: Op voorwaarde dat- (a) volledige besonderhede van eienaarskap van die betrokke dier en die verkoop van die semen aan die Genootskap voorgelê is; en (b) die amptelike bloedtiperinglaboratoriumnommer van die dier by die Genootskap ingedien is. 7. REëLS MET BETREKKING TOT EMBRIO-OORPLASINGS 7.1 Diere wat wettiglik deur eisel-oorplasings ontstaan het, sal vir registrasie in aanmerking kom: Op voorwaarde dat – (a) aan al die vereistes van die Grondwet mutatis mutandis voldoen is; (b) beide die semen- en eiselskenker vir sodanige doeleindes deur die Raad goedgekeur is; (c) behalwe in die geval van 'n dier wat uit 'n embrio-oorplasing ontstaan en in utero ingevoer is, die volgende dokumente binne 120 dae na elke embrio-oorplasing aan die Genootskap voorgelê is - (i) die amptelike bloedtiperinglaboratoriumnommers van die semen- en eiselskenker betrokke; en (ii) 'n sertifikaat deur 'n veearts of embrio-oorplaser, of in die geval van binne kudde embrio-oorplasing die eienaar, te dien effekte dat die bepalings van die Wet nagekom is; (d) in die geval van 'n dier wat uit 'n eisel-oorplasing ontstaan het en in utero ingevoer is, die volgende bewyse en dokumentasie, onderteken deur 'n bevoegde liggaam in die land van herkoms, by die Genootskap ingedien word binne 30 dae na die aankoms van die ontvanger koei inSuid-Afrika - (i) bewys van die dekking of inseminasie en spoeling van die embrio skenker; (ii) bewys van die oordrag en die oordragdatum na die betrokke ontvangerkoei; (iii) twee generasie stamboom van beide skenkers; (iv) hul bloedtiperingsertifikate; en (v) bewys dat hul standaarde van voortreflikheid aan die vereiste voldoen soos deur die Raad bepaal mag word; (e) 'n geboortekennisgewing met betrekking tot 'n dier verwek deur 'n eisel oorplasing op die voorafgedrukte vorm ingedien word waarna in Verordening 9.2 verwys word; (f) ouerskap sal in elke geval deur bloedtipering of enige ander beproefde wetenskaplike metode van bevestiging van ouerskap, bevestig word tensy anders deur die Genootskap of die Vereniging bepaal; en dat (g) aan al die ander vereistes van die Grondwet met betrekking te geboortekennisgewings, inspeksie en/of prestasie en registrasies voldoen is. 7.2 Die Genootskap behou die reg om deur middel van sy ampsdraers toesig te hou oor en/of inspeksie uit te voer aangaande die noukeurige aantekening van die toepassing van embrio-oorplasings deur sy telers. 7.3 Telers wat in die lande buite Suid-Afrika woonagtig is en wat die voorregte van registrasie van diere geniet, mag aansoek doen om die registrasie van nageslag wat deur embriooorplasings ontstaan het: Op voorwaarde dat dit eiselle verkry is van 'n bron wat deur die Genootskap goedgekeur is, en verder op voorwaarde dat die opvang van die eiselle, die hantering daarvan, die oorplasing van embrio's en die hou van verslae so gedoen word as wat die Genootskap van tyd tot tyd mag goedkeur. 7.4 Die Genootskap en die Vereniging behou die reg om te weier om nageslag wat deur embrio-oorplasings ontstaan het, te registreer indien enige van hierdie reëls of die bepalings van die Wet nie ten volle nagekom is nie. 8. DRAGTIGHEIDS-EN INTERKALWING PERIODES 8.1 Die dragtigheidperiode is 290 dae. Die minimum aanvaarbare dragtigheidperiode is 273 dae en die maksimum 308 dae. 8.2 Geen dragtigheidperiode buite die tydsbestek sal sonder spesiale goedkeuring van die Raad erken word nie tensy ouerskap deur 'n bloedtiperingstoets bevestig word. 8.3 Die minimum aanvaarbare periode tussen die geboortedatums van twee agtereenvolgende kalwers uit een koei (interkalwingsperiode) is 280 dae 9. KENNISGEWING VAN GEBOORTE EN AANSOEK OM REGISTRASIE 9.1 Die teler van 'n kalf van 'n geregistreerde vroulike dier of vroulike dier wat vir registrasie in aanmerking kom, moet die Vereniging binne 90 dae van die geboorte van die kalf in kennis stel, ongeag of so 'n kalf lewendig of dood gebore is, of vir registrasie behou word, al dan nie. 9.2 Alle kennisgewings van geboorte moet op 'n manier soos deur die Vereniging goedgekeur geskied, en nie later nie as 270 dae na die geboortedatum van die betrokke kalwers aan die Vereniging gestuur word en afskrifte daarvan moet deur die betrokke teler bewaar word sodat dit te alle redelike tye beskikbaar is vir insae en kontrolering deur amptenare van die Genootskap. 9.3 Ongeag Verordening 9.2 kan die Vereniging 'n kennisgewing van geboorte vir registrasie aanvaar wat die Vereniging bereik meer as 270 dae na die geboorte van die kalf: Op voorwaarde dat met die kennisgewing ook die boete ingesluit word. 9.4 Diere waarvan die geboortekennisgewing as "NIE VIR REGISTRASIE" geëndosseer is, sal onder geen omstandighede sonder toestemming van die Raad vir registrasie aanvaar word nie. 9.5 In die geval van veelvoudige geboortes moet die teler benewens die gegewens wat gewoonlik verlang word, ook op die geboortekennisgewing van elke kalf die getal en geslag van die ander kalf of kalwers aandui. 9.6 Die Vereniging sal namens elke teler rekords hou van alle geboortes, hetsy lewendig of doodgebore, waarvan die teler die Vereniging behoorlik in kennis gestel het en ook van sodanige ander besonderhede as wat deur die Genootskap nodig geag mag word. 9.7 Die geboortekennisgewing is onderworpe daaraan dat die teler volle verantwoordelikheid aanvaar dat die stamboom, telingsbesonderhede en permanente identifikasie van die dier of diere in die geboortekennisgewing veld korrek is en dat aan al die vereistes van die Grondwet met betrekking tot geboortekennisgewings, voldoen is. 9.8 In die geval van 'n dier wat in utero ingevoer is, moet die geboortekennisgewing vergesel gaan van 'n sertifikaat behoorlik geteken deur 'n bevoegde liggaam in die land van herkoms en waarop aangedui word - (a) dat die identifikasie van die vader, soos op die dokumente aangedui, korrek is; en (b) dat die vader aan die registrasie vereistes voldoen soos deur die Raad bepaal mag word. 10. BEVESTIGING VAN OUERSKAP 10.1 Ten einde die ouerskap van 'n geregistreerde dier of 'n dier geskik vir registrasie te bepaal, behou die Genootskap die reg om te eniger tyd 'n bloetiperingstoets of enige ander beproefde wetenskaplike metode van bevestiging van ouerskap te vereis - (a) as 'n roetine prosedure, soos van tyd tot tyd deur die Vereniging bepaal; en (b) in enige geval van twyfel. 10.2 In die geval van die bloedtipering waama in Verordening 10.1(a) verwys word sal die teler vir alle koste van alle ouerskapkontroletoetse van die tweede toets af, verantwoordelik wees. 10.3 In die geval van die bloedtipering waarna in Verordening 10.1(b) verwys word sal die teler of die Genootskap, soos deur die Raad bepaal, vir die koste van die bloedtipering verantwoordelik wees. 11. VEREISTES VIR REGISTRASIE 11.1 Algemeen 11.1.1 Registrasie geskied met aantekening van geboorte. 11.1.2 Uitgesonder die bepalings van Verordening 1.2.1 sal geen aansoek om registrasie van 'n Suid-Afrikaansgeteelde dier oorweeg word nie tensy - (a) besonderhede van geboorte na behore aangeteken is of ooreenkomstig die bepalings van Verordening 9 vir registrasie aanvaar is, (b) beide ouers of, in die geval van 'n dier ingevoer in utero of 'n dier voortspruitend uit ingevoerde semen, die moeder, by die Vereniging geregistreer is, (c) die vader ten tyde van die dekking van die moeder ouer as ses maande was en onderwerp is aan DNA-tipering en/of die moeder ten tyde van dekking ouer as nege maande was. 11.1.3 Geen dier sal vir registrasie in aanmerking kom indien dit nie aan die rasstandaard, voldoen nie. 11.1.4 Indien daar twyfel bestaan oor die besonderhede wat op die geboorte kennisgewing of meegaande sertifikate, mag die dier na oordeel van die Raad van registrasie uitgesluit word. 11.1.5 Die metode van aansoek sal - (a) deur die Vereniging neergelê word; en (b) deur die Genootskap geëndosseer word te dien effekte dat al die vereistes van die Grondwet met betrekking tot registrasie nagekom is. 11.1.6 Alle bulle wat in stoetkuddes gebruik word moet DNA-getipeer wees (soos vanaf 1 Januarie 2004). 11.2 Ingevoerde Diere 11.2.1 'n Ingevoerde dier of 'n dier verwek deur ingevoerde semen of 'n ingevoerde embrio sal geskik wees vir registrasie op voorwaarde dat die vereistes van die Wet en van die Grondwet mutatis mutandis nagekom is. 11.2. 'n Stamboek dier wat in die Gebied ingevoer word sal geskik wees vir registrasie op voorwaarde dat aansoek vir registrasie binne drie maande vanaf datum van aankoms van die dier gedoen word en die aansoek vir registrasie vergesel gaan van - (a) 'n sertifikaat van registrasie of 'n oorspronklike uitvoersertifikaat wat 'n twee generasie uitgebreide stamboom weergee, uitgereik deur die stamboekgenootskap in die land van herkoms; (b) bewys tot dien effekte dat die betrokke dier aan die registrasie vereistes voldoen soos van tyd tot tyd deur die Genootskap bepaal mag word; en (c) 'n verslag van die inspekteur wat bevestig dat die permanente identifikasiemerk soos op die registrasie en/of uitvoersertifikaat aangedui ooreenstem met die betrokke dier. 11.2.3 Registrasiesertifikate sal deur die Vereniging ten opsigte van ingevoerde diere uitgereik word. 11.3 Ingevoerde Semen en Eiselle 11.3.1 Nageslag wat deur inovulering met ingevoerde eiselle ontstaan het ten opsigte waarvan die bepalings van die Grondwet mutatis mutandis voldoen is, sal vir registrasie in aanmerking kom: Op voorwaarde dat sodanige ingevoerde eiselle - (a) deur 'n bevoegde liggaam in die land van herkoms (goedgekeur deur die Direkteur: Dieregesondheid van die Nasionale Departement van Landbou) van eiselskenkers wat aan die minimum vereistes vir registrasie voldoen soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal; en (b) indien bevrug moet sodanige eiselle bevrug wees met die semen van 'n dier wat eweneens aan die minimum vereistes vir registrasie voldoen soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal. 11.3.2 Die geboortekennisgewing moet, onderhewig aan die bepalings van Verordening 6, ook vergesel gaan van 'n sertifikaat deur 'n bevoegde liggaam in die land van herkoms, goedgekeur deur die Genootskap en die Vereniging, waarop aangedui word - (a) die name, identifikasie- en registrasienommers van die eisel- en semenskenkers; (b) die datum en plek van opvangs; en (c) die aantal lewensvatbare eiselle van die betrokke eiselskenker opgevang. 12. INSPEKSIE EN PRESTASIEVEREISTES 12.1 Minimum Standaarde Minimum inspeksie- en prestasiestandaarde sal van tyd tot tyd deur die Raad bepaal word. 12.2 Inspeksie en Pligte van Inspekteurs 12.2.1 Die Raad sal, ooreenkomstig Klousule 9(i) van die Grondwet, inspekteurs aanstel om alle geregistreerde diere te inspekteur of te klassifiseer. 12.2.2 'n Inspekteur sal elke geregistreerde dier keur of klassifiseer nadat die bewys van registrasie aan hom voorgelê is. Hy moet homself vergewis dat die identifikasie, kleur, ouderdom en ander gegewens wat op die sertifikaat voorkom reg aangegee is en ooreenstem met die dier wat vir inspeksie of klassifikasie aangebied word. Verder moet hy tot eie bevrediging seker maak dat die dier in alle opsigte voldoen aan die rasstandaard en aan minimum prestasievereistes soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal. Enige verskil of teenstrydigheid kan so 'n dier diskwalifiseer en daartoe lei dat die registrasie van 'n dier gekanselleer word. 12.2.3 Dit is verpligtend dat 'n teler tydens besoek van die inspekteur alle diere wat nog nie gekeur is nie en aan die volgende minimum ouderdom vereistes voldoen, voor die inspekteur bring vir keuring behalwe in die geval van ingevoerde diere waar geen ouderdomsbeperking geld nie - Bulle & Verse - Minimum ouderdom 12 maande, maar nie jonger as 10 maande nie. Die inspekteur het die mag om na eie oordeel enige dier oor te hou vir inspeksie tot die volgende besoek. 12.2.4 'n Inspekteur mag in opdrag van die Raad van tyd tot tyd sonder vooraf waarskuwing 'n algemene inspeksie van enige kudde doen. 12.2.5 Enige telers wat nie met 'n inspekteur se beslissing tevrede is nie, mag binne drie weke na die inspeksie of klassifikasie appél aanteken by die Sekretaris. Sodanige appél moet van 'n deposito, soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, vergesel gaan. 'n Appélraad wat deur die Raad van die Genootskap aangewys word sal dan die betrokke dier of diere inspekteer en indien die appél slaag, sal die deposito terugbetaal word. Indien nie, verbeur die appellant sy deposito en is verantwoordelik vir alle koste deur die Appélraad aangegaan. 12.2.6 Behalwe in die gevalle waarna verwys word in Verordening 12.2.4, sal telers vroegtydig van die tyd en datum van 'n inspekteur se voorgenome besoek in kennis gestel word. 12.2.7 Spesiale inspeksies of klassifikasies kan slegs met toestemming van die Raad plaasvind indien 'n inspekteur beskikbaar is en die aansoeker toestem om die gelde ten opsigte van spesiale inspeksies soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal en die reis- en ander koste van die inspekteur te betaal. 12.2.8 Bo en behalwe die inspeksies waarna hierbo verwys word, mag inspekteurs in opdrag van die Raad ander pligte verrig wat die volgende insluit: (a) klassifikasie of gradering op aansoek van die betrokke teler teen sodanige tarief as wat die Raad van tyd tot tyd mag bepaal; en (b) demonstrasies en lesings tydens boeredae of beoordelaars kursusse. 12.2.9 Inspekteurs in diens van die Genootskap mag nie instruksies van telers of nie-lede aanvaar om die koop en verkoop van diere te bewerkstellig nie en ook nie enige kommissie ontvang voortspruitend uit die koop of verkoop van diere nie: Op voorwaarde hierdie bepaling nie op telers wat as inspekteurs aangestel is van toepassing is nie. 12.2.10 Geen teler mag as inspekteur van sy eie diere optree nie. 13. REGISTRASIESERTIFIKATE 13.1 Oorspronklike Sertifikate Registrasiesertifikate wat ten opsigte van diere uitgereik word sal met die toestemming van die Vereniging, in die formaat wees soos deur die Genootskap verlang. Gegewens ten opsigte van gemete prestasie in die Nasionale Prestasietoetsskema, klassifikasie enander inligting mag op die registrasiesertifikaat voorkom of op 'n bygaande klassifikasie- of prestasiesertifikaat. 13.2 Veranderings of Byvoegings op Registrasiesertifikate Enige wysiging of byvoeging tot die essensiële inligting of besonderhede wat amptelik op enige registrasiesertifikaat voorkom, en wat nie deur die Hoofbestuurder van die Vereniging geparafeer is nie, of enige ongemagtigde endossement of opmerking op sodanige sertifikaat wat betrekking het op die essensiële inligting of besonderhede wat daarin vervat is, sal sodanige sertifikaat ongeldig maak. 13.3 Duplikaat Registrasiesertifikate Op ontvangs van 'n skriftelike aansoek van die eienaar van 'n dier, vergesel van 'n verklaring deur die aansoeker waarin die gebeure duidelik uiteengesit word, sal 'n die Vereniging 'n duplikaat van die oorspronklike sertifikaat uitreik wat beskadig, per ongeluk vernietig of verlore is: Op voorwaarde dat sodanige aansoek gedoen word deur die persoon in wie se naam die betrokke dier laaste geregistreer is en verder dat die aansoek vergesel gaan van sodanige gelde betaalbaar soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal. 13.4 Kanselering van Registrasiesertifikate en die Herinstelling van Diere 13.4.1 Die Raad mag die Sekretaris versoek om by die Vereniging aansoek te doen om die kanselering van die registrasie van enige dier wat - (a) verkeerdelik geregistreer is; (b) geregistreer is op grond van valse of bedrieglike inligting wat deur die eienaar verstrek is; (c) geregistreer is nadat die eienaar versuim het om te voldoen aan enige vereiste van enige toepaslike Verordening; (d) wat nie aan die minimum vereistes soos wat van tyd tot tyd deur die Raad bepaal word, voldoen nie; of en om die teler of eienaar dienooreenkomstig in kennis te stel. 13.4.2 Indien 'n dier wat geregistreer is vrek, gekastreer of gesteriliseer word, of nie voor 39 maande ouderdom gekalf het nie, of vir slagdoeleindes verkoop word, moet die sertifikaat wat deur die Vereniging uitgereik was binne 30 dae na sodanige gebeure aan die Vereniging teruggestuur word vir kanselering en/of endossement ingevolge die bepalinge van die Grondwet van die Genootskap en van die Vereniging. 13.4.3 Alle sodanige teruggestuurde dokumente vir kanselasie sal behoorlik geëndosseer en vir 'n periode van ses maande deur die Vereniging gehou word, waarna dit vernietig sal word. 13.4.4 Indien die registrasiesertifikaat van 'n dier gekanseleer is, sal sodanige dier slegs op aanbeveling van die Raad in die rekords van die Vereniging herstel word. Die aansoek om sodanige herstelling moet vergesel gaan van die gelde wat van tyd tot tyd hier oor deur die Raad bepaal word. 13.4.5 Geen nageslag van 'n dier, waarvan die registrasie ooreenkomstig Verordening 13.4.1 gekanselleer is, sal geregistreer word nie. 13.4.6 Voordat daar so om die kanselering van 'n registrasiesertifikaat aansoek gedoen word, moet die Sekretaris die eienaar van die dier minstens 30 dae voor die tyd skriftelik kennis gee van die voorneme om dit te doen. 14. OORDRAGTE 14.1 Verandering van eienaarskap sal as plaasgevind beskou word indien - (a) 'n dier verkoop, geruil of geskenk is; (b) 'n dier geërf is; (c) 'n vennootskap of twee of meer persone wie gesamentlik 'n deelnemer is ontbind is; of (d) 'n manlike dier geregistreer is in die naam van twee of meer eienaars en enigeen (of meer) afstand doen van sy/hul aandeel in die dier wat so geregistreer is of om enige rede afstand doen van sy/hul belange in genoemde geregistreerde manlike dier. 15.3 Wanneer ookal die Vereniging geweier het om aansoeke van enige persoon te aanvaar, mag die Genootskap daarbenewens die Vereniging versoek om enige of alle vorige inskrywings namens sodanige persoon in die Kuddeboek, te kanselleer. 15.4 Die Genootskap sal geen stappe ooreenkomstig Verordeninge 15.2 of 15.3 neem nie tot na 'n ondersoek deur 'n kommissie bestaande uit die President en/of Vise-President en twee ander lede aangestel deur die Raad, en in ooreenstemming met die aanbevelings van sodanige kommissie. 16. INVOER EN UITVOER VAN DIERE, SEMEN EN EISELLE 16.1 Aansoeke vir die in- en uitvoer van diere, semen en eiselle sal, ooreenkomstig die Wet, in duplikaat op die vorms, verkrygbaar by die Registrateur, by die Genootskap ingedien word tesame met die voorgeskrewe gelde. Die Genootskap sal een afskrif tesame met sy aanbeveling en die dokumente wat die besonderhede weergee waarna in Verordening 16.2 verwys word, aan die Registrateur stuur. 16.2 Die Raad sal minimum prestasie- en ander vereistes vir die invoer en uitvoer van diere, semen en eiselle ooreenkomstig Klousule 9(y) van die Grondwet bepaal en geen sodanige invoer of uitvoer sal deur die Genootskap by die Registrateur aanbeveel word, tensy aan al die genoemde vereistes voldoen is nie. 16.3 Ingevoerde diere en diere verwek deur ingevoerde semen en eiselle wat aan die minimum vereistes waarna in Verordening 16.2 verwys word, en die vereistes van die Grondwet, sal geskik wees vir registrasie. 16.4 Die Vereniging mag, op aansoek en by betaling van sodanige gelde as wat deur die Raad bepaal mag word, uitvoersertifikate uitreik ten opsigte van semen, semen of eiselle in die formaat soos deur die Genootskap verlang en deur die Vereniging goedgekeur. 17. WERKNEMERS VAN DIE GENOOTSKAP Geen werknemer van die Genootskap mag, behalwe in die uitvoering van sy pligte as sodanige werknemer, enige diens lewer of by enige besigheid in verband met die koop en verkoop van diere betrokke wees nie. 18. OORDRAG VAN BEVOEGDHEDE Ondanks enige bepalings in die Grondwet strydig hiermee, mag enige lid deur 'n volmagprokurasie, behoorlik uitgereik en deur die Sekretaris geliasseer, 'n ander persoon volmag gee om namens hom geboortekennisgewings/aansoeke om registrasie, oordragsertifikate, dekkingsertifikate, opgawes of verslae of enige ander dokumente met betrekking tot die administrasie van 'n kudde te onderteken. Enige sodanige handtekening deur so 'n ten volle gemagtigde persoon sal deur die Genootskap as net so geldig en bindend aanvaar word asof dit die lid se eie handtekening is: Op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is, so 'n gevolmagtigde persoon daartoe in staat sal stel om op enige moontlike manier deel te neem aan die nominering van, of stemming vir, enige Raadslid, of stemming oor enige aangeleentheid waaroor sy prinsipaal stemreg het of om enige vergadering namens sy prinsipaal by te woon nie. 19. NIE-LEDE Sodanige voordele van lidmaatskap as wat die Raad mag bepaal, mag aan nie-Lede verleen word: Met die verstande dat geen wetlike of ander verpligting op die Genootskap sal rus ten opsigte van sodanige nie-lede nie en op verdere voorwaarde dat alle gelde met betrekking tot enige dienste wat deur die Genootskap aan nie-lede gelewer word, sal wees soos uiteengesit in die Skedule van Gelde. Sodanige gelde sal vooruitbetaalbaar wees. |